Hoe om ‘n legkaart te kies?
Ouers sal dikwels vir my vra: “Hoeveel stukke behoort my kind teen 2 jaar te kan bou?”
Dit is geen eenvoudige vraag om te beantwoord nie aangesien kinders se vermoëns met legkaarte hemelsbreed verskil. Ek het al ‘n tweejarige gehad wat alle legkaarte op die rak oor en oor gebou en dit uiteindelik onderstebo kon bou. Hy was eenvoudig rasend oor legkaarte en sou dit later seker geblinddoek ook kon bou! Aan die ander kant kry jy ‘n vierjarige wat die stukke van die tafel af sal vee en doodeenvoudig weier om ‘n legkaart te bou.
Legkaarte se moeilikheidsgraad hang nie bloot af van die aantal stukke nie. Neem gerus die volgende ook in oorweging:
- Het die legkaart ‘n enkelvoudige prent sonder enige agtergrond, of bestaan die prent uit ‘n figuur teen die agtergrond of voorgrond van menige ander detail? Die tweejarige kan begin met die enkelvoudige prent van byvoorbeeld ‘n bal en uiteindelik vorder tot ‘n prent van ‘n bal teen die voor- en agtergrond van ‘n parkie met allerlei kinders, plante en diertjies.
- Dit is altyd makliker om aanvanklik met ‘n legkaart wat bloot vierkantig of reghoekig is, te begin. Deesdae is daar legkaarte wat sirkelvormig is of selfs die vorm aanneem van byvoorbeeld ‘n boot, ‘n insek of ‘n huis. Hierdie legkaarte bied groter uitdagings.
- Party legkaartstukke lê doodgewoon teenaan mekaar terwyl die makliker tradisionele legkaart se stukke in mekaar pas en so selfkorrigerend is.
- Die meeste tradisionele legkaartstukke is min of meer ewe groot. Nuwerwetse legkaartstukke wissel dikwels in grootte en vorm en bied so ‘n groter uitdaging aan die kind.
1 – 2 jaar: Stel jou peuter bloot aan knoppieslegkaarte met stukke waarvan die prente verkieslik realistiese, eerder as geanimeerde prente van diere, dinge of mense bevat. Aanvanklik sal die peuter bloot plesier vind daarin om die stukke uit te pak. Gebruik hierdie fase om vir hom die woordeskat van die verskillende items aan te leer en plaas teen die einde weer al die stukke terug. Hy sal jou gou probeer naboots deur dit self te probeer terugpak. Wees versigtig om nie aanhoudend negatiewe kommentaar te lewer nie, soos byvoorbeeld: “Nee, nie daar nie. Hier!” Dit breek die peuter se moed en lus en laat hom gou tou opgooi. Loof eerder sy lofwaardige pogings en help hom wanneer hy daarom vra.
2 – 4 jaar: Begin met enkelvoudige prente sonder te veel gedetailleerde voor- en agtergrondprente. Spring weg met 2 stuk-legkaarte en laat jou peuter jou lei: 4 stukke, ses stukke, agt stukke, ens. Peuters is geneig om dieselfde legkaart oor en oor te bou totdat hy die vaardigheid bemeester het. Moet hom nooit hierdie voorreg ontneem omdat die speletjie vir jou vervelig raak nie! Dit gaan hier om die ontwikkeling van jou kind se vaardighede, nie om jou vermaak nie! Ongelukkig word ‘n legkaart gou oorbodig wanneer die vaardigheid baasgeraak is. Prys jou peuter hiervoor en beweeg aan. Ruil gerus jou legkaarte uit met ‘n vriendin of familielid aangesien jy nooit genoeg kan aanskaf om die peuter se honger te bevredig nie.
Vanaf 4 jaar kan jou kind eksperimenteer met 20 en meer stukke. Hierdie speletjie kan nou interessant raak aangesien jy van blote prente kan aanbeweeg na leersame materiaal soos byvoorbeeld ‘n legkaart met die verskillende provinsies van jou land, of ‘n onderwater-seetoneel.
Jy kan jou legkaarte aankoop deur Celia Nortje, of enige ander opvoedkundige speelgoed-konsultant. Gaan gerus in op Celia se webtuiste: www.toys4you.co.za of stuur vir haar ‘n e-pos met jou behoeftes aan Smile@celian.co.za. Playworld in Heugweg, Walmer, bied ook ‘n groot verskeidenheid legkaarte en by Treasure Cove, ook in Heughweg, mag jy dalk teen ‘n nominale prys legkaaarte kan leen.
Ek hoor graag van jou indien jy enige raad of voorstelle in die verband het. Lekker legkaart bou!