Kruising van die middellyn
Wanneer baba twee blokkies met groot bravade teen mekaar kap, is hy eintlik besig om noodsaaklike boustene vir leer en gedrag neer te lê. Gedurende die eerste paar maande van ‘n baba se lewe maak hy baie verskillende bewegings met beide kante van sy liggaam wat miskien vir ons doelloos mag voorkom. Die brein stoor egter al hierdie sensasies en ervarings van die sintuie en die spiere sodat die liggaam later hierdie ervarings kan gebruik om meer doelgerigte vaardighede te kan uitvoer. Ons kan hierdie proses vergelyk met ‘n padkaart wat vir liggaam (“body mapping”) opgestel word sodat hy presies weet hoe om sekere bewegings en motoriese vaardighede spontaan en met gemak te kan uitvoer.
Soos die baba sterker word, raak hierdie bewegings meer doelgerig en gekontroleerd en vind daar spesialisering plaas van ‘n meer vaardige of dominate kant van sy liggaam. Op hierdie wyse is akademiese vaardighede bv. lees en skryf dan op ‘n latere ouderdom die eindproduk van goed geintegreerde bilaterale motoriese koördinasie en kruising van die midlyn bewegings wat baba so natuurlik uitgevoer het.
Wanneer ons as volwassenes ons bewegings dophou, kom ons agter dat ons voortdurend ons twee hande spontaan saam gebruik of dit is om ons baba se doek om te ruil of om onsself aan te trek. Wanneer iets dalk verkeerd gaan bv.daardie ongemaklike gevoel wanneer daar ‘n seerplekkie op jou een hand is wat verhoed dat jy jou hande saam kan gebruik, is nie altyd so ‘n aangename ondervinding nie. Jy voel lomp en onbeholpe en dit vereis ekstra energie om eenvoudige take uit te voer. ‘n Kind vir wie dit ‘n uitdaging is om beide kante van sy liggaam saam te gebruik, kan daarom moontlik lomp en onbeholpe voorkom en dit kan vir hom ekstra inspanning wees om spontaan saam met sy maats te speel en te leer.